Die ondier in my katel

9:05 am Jasper se Stories

So 3 of wat jaar terug was ek en skoonlief bietjie boos vir mekaar en besluit toe ons moet so bietjie vervreemd raak vir so wyle tot die een weer die ander kan waardeer. Als vir die beste en alles van die beste en al die tipe van dinge…

Elke geval vat Jasper toe die nuutgevonde stukkie vryheid en kies koers Europa toe om bietjie te gaan toer. Heeltemaal by homselwers Venisië deur Rome tot in Parys sonder drama en vir die kersie op die koek sak die outjie bietjie af Suid Afrika toe vir ‘n lekker kuier sessie. Daar gekom loop alles mos voor die wind. Lekker braaivleisie en pap en sous en so nou en dan ‘n lekker koue brandewyntjie met baie eish.

Die bosveld is mos ook nou nie vir sussies nie en so by so loop Jasper homself in ‘n bosveld kapel vas met ‘n bakkop so groot soos sy ouma se skinkbord. Maar nie eens dit troef hom nie en hy vang sommer die nommer om te loop kyk hoe vinnig ‘n plaaswerker nou regtig kan hol as die ding oor die boma se muur gegooi word (Eintlik het Jasper ‘n ratel ook gesoek om bietjie te gaan dobbel maar nou ja…)

So met die terugkeer Londen toe is waar dinge toe mos sleg begint skeefloop. Sommer die eerste aand is die mannetjie pootuit van al die wedervaringe en loop soek hy die kooi op. Niks ongewoon nie, jou bed is mos jou bed….

Nie waar Jasper bly nie. ó néé… Jasper se bed is mos broeiplek vir die ondier. Salig slaap die mannetjie so van 8 uur die aand en word teen 2 uur verskriklik kru wakker gemaak met ‘n allemintige brandgevoel aan sy bas. Om nie eens van die koors van 40 te praat nie.

Opgespring om te loop kyk watse kool vuur sit in sy jock vas en so halwe lafenis met die agterkwart liggies teen die koue badkamer teels. Ook net vir sekondes want dan moet daar weer aangeskuif word na die volgende teel toe.

So voel voel met liggiese vingerpunte op die agterstewe proklameer ‘n helse spul bulte  wat voel soos muskiet byte op steroids. En het jy nou al jou boud probeer bekyk met ‘n spieël wat 1.6 meter bo die grond teen ‘n muur sit. As jy dit regkry, vertel ek jou nou jy wen die yoga kompetisie by die gym loshande sonder ‘n smile op jou gesig….

Hoe het ek toe nie gewens vir ‘n proper Suid Afrikaanse dokter met ‘n voltaren spuit nie. Ai. Ou Ghaaitsie Goebieb daar by die veldskool met sy lang rottang en ses van die beste golf houe kon kom kers op steek by hierdie plasma skietwond aan my sitvlak. Die hel was nog nooit so vurig nie. Ek sweer.

Weet jy hoe voel dit vir ‘n groot man om 4 uur in die oggend die ambulans te bel dat hulle tog net seblief vir jou moet salf bring vir die stoof plaat wat nou nou nog jou bas was. Uh Uh nee. Nooit weer nie. Veral nie as jy vir ‘n histeriese paramedikus moet verduidelik wat die oorsaak daarvan was nie. Dan glo die suurstof dief jou boonop nie eens nie.

Want tussen die lakens in my katel het ‘n harige 8 poot horriblis spieder lekker snoesig loop nes skrop wyle Jasper op vakansie was en toe hy nou rustig om die draai stap droomland toe is dit mos toe nou dwars oor die aaklige gedrog se bospaadjie na sy spens toe. Onthou jy die grapgat op skool wat kronies sy lang naels oor die swart bord getrek het. Nou ja! Dis hoe ek gegril het toe die gesig hom aan myself ontbloot.

Sewentien keer het die  brak van die duiwel my aan die bas geknaag! SEWENTIEN keer! En die verdomde ambulans man glo my nie want daar is mos nie “giftige” spinnekoppe in Engeland nie. Haai jinne mnr die entomoloog of wat ookal mens die kenners van arachnoids noem. Kom loer self na die ding in my kooi en terwyl jy draai maak bring sommer jou pilletjies saam met die termometer. O ja, en moet ook nie die salfies vergeet vir die nekrose aan my agterent nie want die prins van die donker se pooch het my agterstewe net so effentjies geknibbel met sy wreede stel tandjies.

Dit is nou amper ‘n skrikkeljaar sedert die naghond se besoek aan my duvet en die  ”scars” sit nog steeds. Darm nie meer “mentally” nie, maar aan die stewe pronk hulle nog lekker.

Al wat ek onthou van die affere is toe die engeltjie vir my smile en sê…….
“stof tot stof”
toe die opgerolde koerant soos ‘n ploegskaar op die gebroetsel neerdaal en hom diep diep die grond in werk…..

10 Responses
  1. Da Mario :

    Date: February 13, 2008 @ 3:29 pm

    En hier het ek eers gedog die ondier waarna jy verwys is ‘n girl van twyfelagtige morele standaarde wat jy per ongeluk huis toe geneem het… :lol:
    Ek bedinges myself as ek so outjie in my bed kry. Dis seker ook die rede dat ek saans eers onder die kussings en onder die duvet kyk VOOR ek gaan slapies!

  2. Roer :

    Date: February 13, 2008 @ 4:18 pm

    Jas, dis NET jy wat ‘n storie so goed kan vertel. Ek weet dis nou nie moontlik om ‘n ‘voor’ foto te wys nie (tensy jy die linkerboud wys…of is dit nou die regter), maar ‘na’ sal ook werk. ;-)
    NS. Verskoon my stuitigheid maar ek wil iets sê en ek gaan dit sê! Dis ‘n goeie ding jy slaap nie op jou MAAG nie.

  3. Jasper :

    Date: February 13, 2008 @ 4:55 pm

    HAHAHA….
    Roer, so foto sou prysloos gewees het, maar ek kon nie eens met die spieel regkom nie.. Dankie vader ek slaap op my maag. :lol:

    DM, ek sal weldra die storie vertel van die los meisie se sedes ;) Mammie screen so nou en dan die inskrywings sien so versigtigheid is aan die orde….

  4. duskant :

    Date: February 13, 2008 @ 5:44 pm

    Roer, dink ek mos nou die symste ding hier…swaer as jy darie nag vir jouselwers op jou maag tuisgemaak het vir die slaapslag was die letsels wat jy vandag sou oorhou dalk ‘n bittere pil om te sluk in enige man se boeke…So klein swernoot!

  5. Tristonj :

    Date: February 13, 2008 @ 6:51 pm

    Man maar die trane loop my wange af van lag! :lol:

  6. Jaco :

    Date: February 13, 2008 @ 9:01 pm

    Hier dink ek ook amper soos Da Mario dat jy perdalks vir mammagoed die m… uhm kwaad gemaak het voor julle loop slaap het.

    Snaaks tersyde, die uiteinde van jou storie is dat ek nou die hele bed omkeer en ondersoek voordat ek myself daarin begewe.

  7. Da Mario :

    Date: February 14, 2008 @ 6:20 am

    Jaco, soos ons uit ou Jassie se ervaring kan sien… eerder bang Jan as warm-gebyt Jan! :lol:

  8. boendoe :

    Date: February 14, 2008 @ 7:51 am

    Jasper, dis histeries! Yoga kompetisie, indeed! Ek het nie so lank terug op Animal Planet gesien van ‘n BAIE giftige spaaider wat die UK ingekom het van Brasilie - verskuil in ‘n tros piesangs! So, dis moontlik.

  9. Dellie :

    Date: February 14, 2008 @ 2:31 pm

    Jy vertel baie goed! Ek kan amper die letsels op jou boud sien. Maar jong, ek gaan vanaand daai bed van my ook eers mooi ondersoek! :lol:

  10. sonkind :

    Date: February 15, 2008 @ 8:59 am

    O hel, ek gril my in ‘n koma in. Alles aan my kriewel nou, al weet ek dis nie rasioneel nie :lol:

    Dalk het mamma jou juis verwens oor die asem skep episode!

Leave a Comment

Your comment

You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Please note: Comment moderation is enabled and may delay your comment. There is no need to resubmit your comment.