‘n enkel kaartjie na suid Siberië

Algemeen 9 Comments

,,,,,,,

As julle lekker snoesig in die kooi lê en doeke trap, dink aan hoe koud julle nou regtig kon kry as julle hier kon rondloop. Dit is nie bietjie koud nie, Dit is "%ok£n koud!!! O ja, en die wit op die foto’s is nie regtig sneeu nie, dit is meer soos ‘n poeier ysreën tipe sneeu. Toe ek hier in Atyrau aankom, slaan ‘n blizzard los en dit is een groot gemors. Vir 2 dae aanmekaar het die poeier neergekom en ‘n goeie half meter dik loop lê op plekke. Dit is nie regtig wat erg is nie….. dit is die Siberiese wind wat uit die noorde oor die steppe aangewaai kom. As jy jou mond oopmaak om met iemand te praat, dan slaan dit jou asem weg. En dit voel of jy in die kaap loop in Augustus. As jy ‘n sambreel naby het, jaag jy resies met Mary Poppins en jy loop so half skeef soos ‘n krap met aambeie..

Die ou ligte briesie slaan jou met ‘n aanvoelbare temperatuur van sowat -30°C. Niks ernstigs nie, moet net nie water afslaan langs die pad nie. As jy te veel biere agter die blad het, bly liewers binnenshuis. Die Kazakh mense se standaard bou metode is om huise van modder bakstene te bou. (Bietjie moeilik om dit reg te kry in die winter, want alles vries toe, selfs die rivier.) Modder huisies word dan met hout oorgetrek soos die een op die foto. Of sommige van hulle in elk geval. Daar is gewoonlik ook hout hekke en mure voor die geboue wat meeste van die tyd allerhande ornamentele versierings van gedraaide staal op het.

Buite die hotel is die Ural rivier toe ge-ys en jy kan dwars oor die rivier loop sonder enige probleme. Ek is half versigtig vir die affere, maar as die manne wat bietjie kom visvang  met hulle swaar vierwiel trek voertuie op die rivier kan ry, dan kan ek sekerlik seker daaroor loop. Dit voel effens snaaks om te dink jy stap nou dood luiters oor ‘n vloeiende klompie water net 20 cm onder jou voete deur ‘n deurskynende ys-laag. Miskien is dit ‘n Suid Afrikaanse ding om voetjie vir voetjie te loop uit verwagting dat iets dalk gaan padgee….. :shock: O ja, en as jy op straat deur die dorp stap, hou maar verby die swart ys…. Dis effens seer as jou voete koers kies in die teenoorgestelde rigting van wat jou lyf loop.

Wonder bo wonder is hier nie regtig baie ongelukke nie. In elk geval niks waarvan ek hoor of sien nie. Die paaie word ook nie regtig ge-grid nie, maar dit lyk nie of dit die mense pla nie. Hulle ry nou wel effens stadiger, maar ek staar my verdwaas dat hulle nog steeds nie inmekaar vas neuk op die swart ys nie. My verstand sê vir my die motors moet gly, maar my oë vertel vir my ‘n ander storie. Ek staan kronies oopbek as ek sien hoe die mense geleer het om in sulke uiterste omstandighede reg te kom. En natuurlik vir die rokers onder ons, Ek moet net vir julle sê, ‘n pakkie sigarette kos net R4.

Ek gaan nog sowat 7 dae hier in Atyrau vertoef en 3 van die dae sluit helikopter ritte in na van die lokale bedryfs installasies toe. Ek dink dit gaan ‘n ondervinding en ‘n half wees en het klaar gereel dat ek my kamera kan saamneem. Ek kan regtig nie wag nie. Dit is ‘n lekker gevoel om so opgewonde te wees. Daar is net een gevoel wat dit oortref, en dit is die verlange na my seuntjie…

In afsluiting so stukkie oor godsdiens. Daar is ‘n paar gelowe in Kazakhstan, maar oor die algemeen is dit die Russiese ortodokse gemeente en die Moslem geloof wat die meerderheid daarvan uitmaak. Die moskee op die foto is in die hartjie van Atyrau reg langs ‘n park wat vir die Russe en Kazakhs omtrent net soveel beteken soos Picadilly Circus vir ‘n engelsman. Daarmee groet ek julle vir eers. Geniet die sonskyn en die naweek in SA!!